𝐆𝐫𝐨𝐨𝐭 𝐌𝐮𝐮𝐫 𝐯𝐚𝐧 𝐒𝐣𝐢𝐧𝐚 𝐯𝐞𝐫𝐝𝐞𝐞𝐥 𝐨𝐨𝐤 𝐍𝐚𝐦𝐢𝐛𝐢𝐞̈
Die super-Namibiese afvaardiging na Sjina was super-histories vir president Dr. Netumbo Nandi-Ndaitwah, maar terselfdertyd super-omstrede met Swapo-huismoles wat nou internasionaal uitgestal en erken word.
• Daar was ongetwyfeld ’n handjievol van Namibië se mees gerespekteerde sake- en regeringsleiers in die span, maar hulle was by verre oorskadu deur die politieke tsotsies, professionele werkswinkelgangers, S&T-misbruikers en selfaangestelde lofsangers vir president Ndaitwah. Sy weet miskien nie wie met die boek van lofliedere in een hand staan nie, maar met ’n mes in die ander wat hulle met die eerste geleentheid in haar rug sal druk.
Elke taxibestuurder en passasier weet wie die president ondermyn, en enige man op straat sal sonder aarseling ’n naamlys van ’n dosyn korrupte politici en amptenare kan gee. Daar is konsensus.
• Dit is verbasend dat daar plek vir nóg ’n mes in die president se rug is.
𝐒𝐣𝐢𝐧𝐞𝐬𝐞 𝐤𝐚𝐥𝐞𝐧𝐝𝐞𝐫 𝐯𝐞𝐫𝐬𝐤𝐢𝐥 𝐞𝐟𝐟𝐞 𝐦𝐞𝐭 𝐍𝐚𝐦𝐢𝐛𝐢𝐞̈
Toevallig is dit volgens die Sjinese kalender die Jaar van die Perd, maar Sjina sal bly wees om te hoor dat dit in Namibië die Jaar van die Donkie is, ter ere van die minister van Vervoer, mnr. Veikko Nekundi, en sy uitgebakte vroueleier, me. Eunice Ipinge.
In Namibië dra van die donkies nou Sjinese pakke sodat hulle beter gesien kan word in die nag.
Leer hulle net om soos zebra hul pajamas in die aand aan te trek en aan te hou..
Dit is miskien die rede waarom Nekundi ook deel van die ampsbesoek aan Sjina was. Daar is ‘n boggel vir alles wat nie ‘n hobbel is nie. As hy wakker was en soos ‘n donkie sy oogklappe afgehaal het en minder in vergaderings slaap, sou hy gesien het daar is ook spoedwalle vir voetgangers in Sjina omdat mense met selfone teen die oor in mekaar vasloop en soos in Namibië op selfone in die parlement vir hulleself kyk.
Dalk moet hy dit vir Gibeon oorweeg? En het hy nie gesien dat marathon chicken, Omuthiya-resieshoenders en langstert-rondloperhonde, soos Ovitoto se Okahandja-beeste, ook in die strate van die Noorde rondloop nie?
Dit is dalk Meatco se beeste wat dagga ingekry het by die Linden-voerkraal. Dit sal dalk goedkoper in Sjina wees om vir onwettige “highway”-voetgangers baadjies te gee as om spoedbrekers op te sit.
𝐃𝐢𝐞 𝐥𝐚𝐚𝐬𝐭𝐞 𝐥𝐚𝐠 𝐢𝐬 𝐧𝐚𝐛𝐲
‘n Paar adviseurs moet ’n paar klappe kry. Is hulle moedwillig, dronk of onnosel, of al drie?
Namibiërs het baie van die magtige Ndaitwah-besoek en ’n afvaardiging van 150 regeringsleiers, CEOs en mislukte staatsondernemings gesien, maar ook die verbysterende nuus gehoor van Stiena Wu, die Namibiese madam-Sjinees wat nou die hoof-ekonomiese adviseur van die Pan-Afrika Vroue-organisasie is en op NBC-TV gelyk het asof sy die baas van me. Ndaitwah se gaste was.
• Etse, takamiese madame.
• Stiena Wu, wat nie eers vir haar eie geldprobleme raad het nie, is volgens Ipinge aangestel omdat sy geld het en Namibiërs wat nie geld het nie, te veel praat.
Haar Marigold Hotel, wat soos ’n love hotel in Piong Tong lyk en wat bitter min Namibiërs nog van binne gesien het omdat hulle nie polisie- of weermagoffisiere, Home Affairs-amptenare of regional councillors is nie, is amper op ’n bankrotvendusie verkoop. FNB het nog laas by haar geld gesoek en beide sake is in die hof. NamRA soek ook ’n paar rand, en dit is openbare nuus.
Op Hentiesbaai en by Kaap Kruis vra die robbe wie hulle so kapater en NamRA wil ook weet. Shivute en Wu was saam, hy moet haar bietjie vra of praat hulle nie met mekaar nie.
• Uit die bloute verneem die land dat sy saam met Valerie Aaron van Okahandja-faam vir president Pohamba ’n geskenkie gevat het en dat sy vir president Ndaitwah nou ten hemele prys.
Net toe Namibiërs gedink het sy is eintlik Shaningwa se vriendin wat geld vir Swapo se verkiesingsveldtog in Sjina sou soek. Dit het ook nooit gebeur nie, en Stiena het toe maar besluit om stil te bly, want dit was die oggend wat sy by die Marigold Hotel ontbyt met Development Bank of Namibia gehad het om haar skuldstories op te los. Wat nie gebeur het nie.
Van haar beloftes oor ontbyt het nie veel gekom nie. John Steytler, ook ’n ekonomiese raadgewer van faam, kan dalk meer lig op die ou sake werp, want hy was daar. Is dit vir NamRA en Sam Shivute die Jaar van die Skilpad of Blindemol as dit by Stiena Wu kom, of is die Marigold ’n soewereine staat soos die Vatikaan?
• Wu nou?
𝐒𝐰𝐚𝐩𝐨-𝐯𝐫𝐨𝐮𝐞𝐛𝐮𝐫𝐠𝐞𝐫𝐨𝐨𝐫𝐥𝐨𝐠
Diegene wat nie agterkom dat die vroueburgeroorlog in Swapo nie ’n einde wil kry nie, bly dalk in Sjina en kuier net in Namibië.
As daar nog enige Namibiër oor is wat dink dat Swapo se vroue met mekaar vrede het of gou gaan vrede maak, het Stiena Wu, wat verkeerdelik beskryf word as ’n “business tycoon”, terwyl sy ‘n “politieke baffoon slim laat lyk”, se eie sosiale media-spoggerigheid haar doodsteek te verwag.
• Bob en Jan?
Sy is in Namibië ’n groter simbool van verdeeldheid as die Groot Muur van Sjina self. Amper so oud ook.
• Gaan vra die voorvroue van Swapo wat hulle dink van die nuwe finansiële wonder wat ’n uitgewaste Swapo-vroueleier, Eunice Ipinge, ontdek het.
Stiena Wu, wat nou haar hoofraadgewer is, se eie raadgewer is ene Whiskey Charlie, wat die politieke loopbaan van ene goewerneur Wakudumo gekelder het, en die inwoners van Kavango-Oos en Kavango-Wes Bonifasius uit sy kantoor uit betoog totdat hy verplig was om Whiskey Charlie se aanstelling terug te trek.
• Charlie en Wakudumo moet maar kyk hoe loop die duiwelskloubesigheid daar in Divundu.
Geeheueverlies of babelaas, Uncle Charlie?
𝐒𝐣𝐢𝐧𝐞𝐬𝐞 𝐠𝐫𝐚𝐩 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐣𝐚𝐚𝐫
As dit nie die Jaar van die Perd was nie, maar die Sjinese Jaar van die Aap, kon Namibië gelag het vir die aankondiging dat tradisionele Sjinese medisyne in Namibië bevorder gaan word om die jeug te bemagtig en rykdom te skep.
• Gaan Namibië se renosterhoring nou plaaslik gemaal word om waarde toe te voeg voordat dit uitgevoer word?
• Gaan ietermago-skubbe in Tsumkwe opgekap word en met donkievet gemeng word om vir rumatiek te help?
• En gaan die robbe se “rodde” op Hentiesbaai gedroog word om saam met haaivinsop die gestel skoon te maak?
En laastens, die laaste hospitaal wat Sjina geskenk het, het op Omuthiya maande lank in onbruik verval omdat die destydse minister van Gesondheid, Richard Kamwi, geweier het om dit amptelik te open omdat dit nie aan basiese standaarde voldoen het nie.
• Namibiërs is te min om onnosel te wees en vergeet nie so maklik nie. Stiena Wu kort self ’n ekonomiese adviseur. Dalk later ook nog ’n regsadviseur.
The post 𝐆𝐫𝐨𝐨𝐭 𝐌𝐮𝐮𝐫 𝐯𝐚𝐧 𝐒𝐣𝐢𝐧𝐚 𝐯𝐞𝐫𝐝𝐞𝐞𝐥 𝐨𝐨𝐤 𝐍𝐚𝐦𝐢𝐛𝐢𝐞̈ appeared first on Informanté.